‘Weerkaatsings: ‘n sprokie’ deur ELEANOR BAKER (1984)
Sjoe. Ten spyte van die besonderse taalgebruik, die spanningslyn wat my tot op die laaste bladsy aangegryp het en eenvoudige, maar kosbare gebare tussen die twee hoofkarakters, sukkel ek om vrede te maak met die stereotipes in Weerkaatsing: ʼn sprokie.
Lize is die emosionele vrou. As sy nie kook, brei of tuinmaak nie, huil sy gereeld met haar kop op haar arms. Sy het nodig om gered te word.
Charles is die emosioneel afgestompte, maar standvastige man. Hy is baie ryk, koop vir Lize alles wat sy begeer en red haar natuurlik.
In ʼn neutedop
Lize ly aan ‘n rare siekte en kry mediese sorg in België. Daar ontmoet sy die stil, donker Charles een aand by vriende. Hy vat haar huis toe en hulle begin met ʼn ongemaklike oor en weer kuiery.
Hy bied aan om haar te help. Sy kan ten volle herstel in sy huis in Italië. Hulle moet egter TROU. Sy stem in, spandeer twee maande in Italië en kom dan gesond terug. Hulle raak verlief maar miskommunikasie hou hulle apart vir weke. Die einde is nie ʼn verrassinig nie.
Opsommend
Ek het die stereotipering aanvanklik toegeskryf aan die feit dat die boek in 1984 verskyn het. As ek egter in 2010, 26 jaar later volgens die Afrikaanse fliek Liefling oordeel, het NIKS verander nie. Liefling kan slegs ten volle gelukkig wees, as sy haar lewe in Lusern, Switserland opgee en terugtrek na Jan toe!
Mis ek iets?