Vaselinetjie
Heel eerstens moet ek dit duidelik maak dat Vaselinetjie nie ’n uitmergelende film is nie. Jy gaan nie jou polse sny as jy dit gaan kyk het nie. Inteendeel, dit is ’n lieflike, opbouende film met ’n vars invalshoek in die rassespanning wat ons elke dag voel.
Tweedens: as jy nie die boek gelees het nie, moet nie eers die sinopsis oor die film lees nie. Gaan kyk dit sonder om te weet wat Vaselinetjie se herkoms is, want dan ontdek jy dit saam met haar.
Vaselinetjie het al die onderdele wat ’n besonderse film opmaak. Elke skoot is fyn uitgewerk, geraam en verfilm. Die klankontwerp is so effektief dit smelt weg. Die karakters is volrond en kruip in jou hart in. Die rolverdeling is deeglik gedoen. (Die vervaardigers het uit iets soos 6 000 kinders gekies.) Die akteurs het elk hul beste gedoen. (Arno Greef bly beïndruk. Marguerite van Eeden, Nicole Bond en Elzet Nel is verstommend. Ek brei later uit oor Oumie en Oupie.) Nie een sinnetjie dialoog was oortollig nie. Die harwar van ’n kinderkoshuis is perfek vasgevang. (Waldemar Coetzee het blykbaar die ou hospitaal gevind. Die plek was onder water en hulle moes agt ton vullis wegry.) Die film is nie te lank, of te kort, nie en behou die balans tussen hartseer, drama en humor.
Hollywood-films het ons gekondisioneer om moord en doodslag en verkragting te verwag, veral in ’n film oor ras, weeshuise en probleemkinders. Dit is die maklikste katalisators om die karakters in iets in te dwing. Vaselinetjie gebruik gelukkig nie hierdie goedkoop truuks om dramaties te wees nie. Dit vertel bloot ’n realistiese, dog ongelooflike storie op ’n eerlike manier. Die kinkels en kabels is dus subtiel.
Welgedaan.
Nou kom ek by Oumie (Shaleen Surtie-Richards) en Oupie (Royston Stoffels). Hulle steel elke toneel. Hulle liefde vir Vaselinetjie is so bitter mooi. Hulle sal als vir haar gee. As die toneel waar Oupie haar vertel sy gaan weeshuis toe, nie jou hart breek nie, is jy ’n robot.
Wat ook beïndruk, is die feit dat Vaselinetjie op haar innerlike krag staatmaak. Sy oorleef die kinderhuis. Sy oorleef ’n kêrel wat nie kan vrede maak met sy eie basterherkoms nie. Sy oorleef haar beste vriendin se selfmoordpoging. Ja, hierdie gebeure vorm haar, maar dit is haar innerlike kompas, haar fondasie wat haar beskerm teen hartseer, teen die pad byster raak. En waar kry sy hierdie fondasie? By Oumie en Oupie. Hulle is haar heenkome.