The Recce

November 5, 2018

Henk Viljoen is wrongfully declared KIA behind enemy lines. Abandoned by his superiors; it’s a race for survival in which his mental and physical abilities are pushed to their limits, as he navigates his way through the treacherous Angolan war zone in an effort to make his way home to his loved ones.

The Recce is ’n Afrikaanse film. (Dit bevat omtrent drie Engelse reëls.) Tog heet dit The Recce, nie Die Recce, of selfs net Recce nie. Die film se identiteitskrisis loop egter dieper as die titel. Dit word beskryf as ’n poëtiese huldeblyk aan soldate wat oor die eeue gesneuwel het; meer van ’n kunsfilm as ’n “skop, skiet en donder”-movie, volgens die regisseur en skrywer, Ferdinand van Zyl.

Die probleem is, mooi beligting, goeie stilering en goeie kamerawerk is nie genoeg om van ’n film ’n kunsfilm te maak nie. Dit help ook nie jy oordonder die kyker met dramatiese musiek en talle stadige-aksie-skote nie. Jy hoef ons ook nie met ’n paplepel te voer nie. Elke karakter wat ’n kans kry om ’n stroperige voice-over te doen, was een te veel.

’n Poëtiese huldeblyk kan baie maklik oorhel na melodrama, byvoorbeeld Henk wat in sy onderbroek voor die venster sit met weerlig in die agtergrond. Of beide Henk en Nicola wat verfstrepe oor hul gesigte het (hulle verf die babakamer); en generaal Visagie se hand wat so bewe dat hy die whiskey sal uitgooi (en die alkohol wat hy in elke toneel wegsluk). Die prentjie van Nicola in Henk se kompas (ja, sy is sy morele kompas) wat elke nou en dan opduik was pynvol. Ek kan nog voorbeelde noem.

Die spelers kon nie veel doen met die stokkerige, dramatiese draaiboek nie. Visser, Daneel, Swanby, Weyers en Maritz probeer hul beste (en hul beste is gewoonlik verbysterend). Kriek kom voor as ’n chauvinistiese kartonmannetjie. Wat die punt van Impi (Maurice Carpede) se karakter was, weet geen mens nie. Sure, Henk en Impi is beide daar om hul teikens uit te wis – hulle is twee kante van die selfde muntstuk. (Tog kry Impi maar vyf persent van Henk se skermtyd.) Waar Henk as lojaal uitgebeeld word, en mens met hom moet simpatiseer (met die klem op “moet”, want jy voel niks vir Henk nie), word Impi as gewetenloos uitgebeeld. (Hoekom maak hy as kind sy hond dood?) In vandag se politieke klimaat gaan jy jou rieme styfloop. Ek wag vir iemand om ’n opstel te skryf oor die dans-om-die-vuur-met-Afrika-maskers-toneel …

Daar was ’n paar blapse. Die mikrofoon wat sigbaar is op Christia Visser se rug, is ’n eersjaarsfout. Het shacks in 1980 landlyne gehad? Vyf ouens skiet op Henk, maar blykbaar kan nie een van hulle raakskiet nie? Dit is onduidelik hoe lank Henk vermis word, maar in daardie tyd groei sy boonste hare langer, maar nie die hare agter en aan die kant nie? Wat is die probleem met sy toon?

Die punt van die film, dat oorlog ons opvreet en lewens vernietig, word vir jou oor en oor gesê. Jy besef dit, maar voel dit geensins nie. Ek dink terug aan Vir die voëls, ’n ongelooflik goeie romantiese komedie/drama. Sampie vertel op ’n stadium vir Irma van die nagmerries wat hy het van die grensoorlog. Dit is hartverskeurend en visueel spookagtig. ’n Vyf-minute-toneel in ’n romkom het my meer beweeg, my meer insig gegee in die grensoorlog as die 115 minute van The Recce.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: