The Lion King – louwarm
Dié film is ’n visuele skouspel – van die leeu se sagte maanhare wat in die wind wapper, tot die kleinste insek wat oor ’n stomp kruip en die utopiese Afrika-graslandskappe. Ek het deurentyd gewonder wat op ’n rekenaar geskep is en wat nie – deels oor dit so realisties is, maar deels oor daar nie veel meer aan die film as die ongelooflike animasie is nie. Dit is ’n jammerte.
Die 2019-weergawe het nie die passie van die 1994-weergawe nie. Ek het heeltyd gewag vir die energie om toe te neem, vir die weerbarstigheid van byvoorbeeld die aasvoëls of die hiënas om deur die skerm te breek. Die oomblik het nie aangebreek nie. Selfs die ikoniese liedjies het verveel. ’n Leidraad tot die film se lusteloosheid was toe dié dialoog ingesluit word: “I’ve got this”. Is dit nie gereserveer vir lamsakkige en onoorspronklike Amerikaanse aksiefilms nie?
Die karakters het min vleis en nog minder persoonlikheid. Ek onthou Pumba en ook die hiënas as fassinerende en vars karakters wat jou oopmond laat lag het. John Oliver se Zazu maak jou darem glimlag. Vir die res gee jy nie werklik om nie.
Ek het doelbewus nie die 1994-weergawe weer gekyk nie, want ek wou die nuwe een op eie voete laat staan. Dis egter so ’n punt-vir-punt hervertelling van die eerste, dat dit niks nuuts bied nie. Jy ken die storie, die nuwe karakters is skaduwees van die oues en na ’n halfuur is jy oor die besonderse animasie.
Dit is nie ’n slegte film nie, net ’n vervelige een. Boonop is die boodskap ’n bietjie oudmodies. Ons het ’n koning nodig om ons te red, om ons te laat opstaan teen ’n despoot. Sonder daardie koning, die uitverkore een, is ons niks nie?