The Hunger Games
Written for and published by www.sarie.com
[image src=”http://www.reneywarrington.co.za/wp-content/uploads/2012/04/the-hunger-games-poster.jpg” align=”center” size=”large” width=”400″ height=”593″]
Laat ek dit vandag op papier sit, Jennifer Lawrence gaan een van die groot geeste in toneelspel word. Sy verleen aan The Hunger Games, ʼn oorompelende stoomtrein van ʼn film, ʼn emosionele diepte wat ver verby haar ouderdom strek. En sy doen dit met bitter min moeite.
Die storie
In die oorblyfsels van wat eens Noord-Amerika was, vind die 74ste Hunger Games plaas. Die deelnemers, een seun en een meisie uit elke distrik tussen die ouderdom van 12 en 18, se name word in ʼn glas bak gegooi en so gekies. Die spele, sowel as hul armsalige bestaan, word gesien as straf vir ʼn mislukte rebellie teen die regering. Twee dosyn kinders neem deel, een bly oor.
Wanneer die bloedjonge Primrose Everdeen se naam getrek word, bied haar ouer suster aan om in haar plek te gaan. Die organiseerders aanvaar dit so en Catniss vertrek na die hoofstad, Panem, waar ʼn media sirkus om haar losbreek.
Die goeie
Die fliek is visueel baie goed aanmekaar gesit. Die armsalige distrikte is skakerings van bruin – stof, ou houtgeboue en vuil vingernaels. Panem is daarteenoor kleurvol, oordrewe en laf –mense is so verveeld dat hulle ekstra tyd het vir krullerige baarde, pers hare en lawwe kostuums.
Die gevegstonele is vinnig, amper bloedloos, maar baie spannend as gevolg van rukkerige kamerawerk, flitsende beelde wat uit fokus uit is en die gebruik van klank. The Hunger Games se geweld fokus dus minder op die wys van bloed en wonde, en meer om jou op die punt van jou teaterstoel te hou.
Jennifer Lawrence steel natuurlik die kollig en Woody Harrelson bring sy gewone sjarme en elektrisiteit. ʼn Verbasende gebalanseerde en onderbeklemtoonde optrede word gegee deur die sexy rocker Lenny Kravitz!
Die gewone lawwe ‘one-liners’ wat deesdae deel vorm van enige aksiefliek is genadiglik gesny en in die nuwe Bruce Willis film ingewerk.
The Hunger Games is nie net mooi geskiet en vol opwindende aksie nie. Die film het opinies oor die samelewing – die onderdrukking van mense, die verspreiding van rykdom, ons verslawing aan ‘reality TV’, ons afgestompte bestaan en die belangrikheid van die individu.
Die slegte
Die uitheemse kostuums en haarstyle van die stedelinge, in ʼn helder versameling van pienk, blou of pers kleure, was nie heeltemal geloofwaardig nie. Dit voel of die kostuumontwerper bietjie te hard probeer het om alternatief te wees.
Vir wie sal ek dit aanbeveel?
The Hunger Games is die tipe film wat almal sal gelukkig maak. Dit is ʼn perfekte kombinasie van aksie, drama, menslikheid en kommentaar op die samelewing. Die geweld is gebalanseerd, maar goed beplan en geskiet. Die drama gee die film diepte, maar maak dit nie swaar nie. Die menslikheid in hierdie kinders wat geforseer word om ander kinders dood te maak word nooit vergeet nie.
Opsommend
The Hunger Games beskik oor al die bestandele om as ʼn ‘goeie film’ bestempel te word. Dit is egter ook vrek goeie vermaak.