Sy klink soos lente
Sy klink soos lente is 50% rom-kom en 50% buddy movie. Dit verskuif geen grense nie, maar doen omtrent als reg.
’n Paar mense se wenkbroue gaan lig oor die gevloekery in hierdie rolprent. Ek dink wel Stiaan Smith se draaiboek is eg Joburg en bliksems vars. Die dialoog vloei en dit meng Afrikaans en Engels en lekker vloekwoorde op ’n manier wat nie steur nie.
Die energie tussen die hoofakteurs, en tussen Stiaan en sy mechanic buddies, is die gom wat die film aanmekaar bind. Die regte akteurs is gekies en hulle het goeie leiding by Corné van Rooyen ontvang. Elize Cawood en Wilson Dunster se kamees steel egter die kollig. Ek sal enige tyd na ’n spin-off kyk met dié twee in die hoofrolle.
Die stilering en kamerawerk is uit die boonste rakke. (Dis koue kos, skat kon by so ’n benadering gebaat het.) Daar was nie een toneel wat oortollig gevoel het nie.
Die hoogtepunt vir my was Wilson Dunster se monoloog oor vrouens. Ben (Stiaan Smith) steek die feit dat hy ’n mechanic is, weg vir die meisie op wie hy verlief is. Hy voel nutteloos. Hy voel hy moet na haar kan kyk. Wilson se antwoord? Vrouens kan na hulleself kyk. Amen.
Sy klink soos lente sal jou laat hardop lag en verlang na goeie vriende.