Stam
“In a small section of inner-city Cape Town, Chantal, a fugitive addict loses track of her child, Jona, when she leaves him behind all alone to turn one final trick. Dawid, a frustrated cop, faces up to the demons from a traumatic childhood. Samiah, a young nurse clings to a disintegrating bubble of fantasy that shields her from facing life on life’s terms. Aphiwe, an up-and-coming art director in a crumbling relationship, is confronted by his fear of connection as he looks for salvation beyond his impenetrable personal boundaries. In a city wracked by conflict, contradiction and harsh battles for survival, the four main characters each discovers surprising and profound truths about their purposes as human beings through their inextricable connections to others. Fear meets hope. Anger meets love. Loss meets meaning. One night, one city, four lives changed forever and bound together by the unblinking gaze of an innocent child.”
Stam probeer te hard, soos die opsomming hier bo, om diepsinnige vermaak te wees. (Let op die woorde wat beklemtoon word.) Ek was heeltyd bewus van hierdie daadwerklike poging tot gravitas, hierdie stremming. Gevolglik het ek nie vir ’n oomblik in die karakters of narratief geglo nie, en boonop gevoel die regisseur, Louw Venter, steek ’n preek af. Laat die storie ontvou en die kyker self besluit hoe hulle voel. Moenie oor hulle skouer loer en jou tong klap nie.
Terug na die opsomming hier bo. Ek het dit gelees ná ek Stam gekyk het en gedink: Gaan dit werklik oor die film wat ek gekyk het? Daar is te min ingekleur, te min van hierdie karakters se interne en eksterne wêrelde blootgelê. Ek was salig onbewus daarvan dat Chantal se afspraak onder bespreking veronderstel was om haar laaste te wees. Of dat Aphiwe ’n jong en opwindende “art director” is. Of dat Samiah blykbaar in ’n fantasiewêreld leef. Grendelbrein bestaan, veral in my geval, maar ek kon tog nie soveel misgekyk het nie?
Inge Beckman se dreads, neusring en oogomlyner maak nie van haar ’n junkie nie. Dit het my al in die voorprent opgeval. Sy kan toneel speel, dit weet ons tog, maar oppervlakkige stilering kelder haar karakter. (Aphiwe se wollinnebroek is ook ’n cliché.) Stilering moet, soos die kamerawerk, so effektief wees dat dit amper wegval, saamsmelt as ’n geheel.
Armand Aucamp se histeriese laggie en senuweeagtige energie maak nie van hom die superskurk wat die rol verg nie. Tarryn Wyngaard se Samiah is ook saai. Die rolverdeling moes fyner gewees het.
Groot dele van die draaiboek was voorspelbaar. Die bejaarde wit pasiënt onder Samiah se sorg is te ooglopend, en haar rassisme gevolglik nie ’n verrassing nie.
Daar is baie ander voorbeelde wat gelys kan word, maar ek wil nie te veel verklap nie.
Daar is ook onwaarskynlike scenario’s wat die film se geloofwaardigheid in die wiele ry. Samiah wat sommer ’n tweede inspuiting uithaal en die pasiënt help? Is daar nie ’n rekord vir dié tipe ding nie? Dawid wat sommer dou voor dag by sy skoonsus se huis instap, ’n skoonsus wat juis weens haar omstandighede sekuriteitsbewus sou wees? Sluit niemand deure in Kaapstad nie? Aphiwe wat uit die bloute uit onderstebo hang en Jona vermaak? Aphiwe wat in die park sit en ’n diepgaande gesprek met ’n wildvreemde kind voer?
’n Hoogtepunt is Gideon Lombard se vertolking. Dawid se trauma en gebrokenheid lê heeltyd net onder die oppervlak. Lombard doen sy bes met ’n beperkte karakter en onsinnige dialoog.
Ek kan insien wat Venter met Stam beoog het – ’n dapper, unieke film wat sonder om te skroom vraagstukke soos armoede, gesinsgeweld en ouerskap ondersoek. Sy film word egter gekniehalter deur ’n oppervlakkige draaiboek wat nog ’n paar keer herskryf moes gewees het, plus regie wat die kyker manipuleer om die film se wêreldbeskouing as die waarheid te aanvaar. Ek verkies ’n bietjie meer vryheid.