Pretville – ‘n Lang lawwe musiekvideo
OORSPRONKLIK GESKRYF VIR EN EERSTE GEPUBLISEER DEUR LITNET
Die Suid-Afrikaanse filmbedryf lê na aan my hart. En die hele Hartiwood-span – werkers en spelers – is ongelooflik gaaf. Ek was op die stel en by die press junket en die akteurs kon nie uitgepraat raak oor hoe awesome die ervaring was nie. Die stel wat gebou is (en nou oop is vir die publiek) en die geld en bloed en sweet wat hulle ingesit het, is ’n reuse-belegging in die bedryf. Vat dus asseblief die volgende punte as opbouende kritiek.
Ek verstaan die film is veronderstel om lig (en laf) te wees en dat dit nie ernstig opgeneem moet word nie. Tog kan ligte vermaak meer diepte, meer kompleksiteit en ’n baie meer komplekse storielyn hê.
Die goeie
Die choreografie het beïndruk. Ek het nog nie sulke moves in ’n Suid-Afrikaanse film gesien nie. Die musiek is ook heel catchy. Die konsep om 1950’s-Amerikana en Afrikana te kombineer is baie oorspronklik en die stilering is meestal geloofwaardig.
Een van die grootste bonusse van Pretville is die hoeveelheid nuwe talent wat ontgin word. Blykbaar is oudisies oopgestel en het jou “naam” of ervaring jou nie ’n rol gewaarborg nie. Wel gedaan.
Ou Steve se vertolking staan kop en skouers bo die ander akteurs s’n uit. Hier het sy onscreen presence, maar dalk meer sy ervaring, hom gehelp om bo die oordonderende musiek uit te styg. Hy het ’n menslikheid – ek sou eintlik selfs sê ’n weerloosheid – aan sy andersins delightfully karikatuuragtige Eddie Elektriek verleen.
Die slegte
Daar is geen storie nie. Ma en dogter raak beide verlief – die dogter op die plaasseun, die ma op die toerende musikant. Hulle sit vas met hulle kêrels. Hulle raak versoen. Dit is dit. Pretville is basies ’n versameling van (cool) Machiel Roets-liedjies met ‘n bietjie dialoog tussendeur om die een liedjie aan die volgende een te bind.
Ek kry die gevoel dat Pretville geskiet is omdat Liefling so ’n groot finansiële sukses was. Met ander woorde, dieselfde resep is gevolg – en dit is ’n belediging vir my en moontlik vir die gehoor. Moet ons nie onderskat nie. Ons sal betaal vir ’n fliekkaartjie, maar dan wil ons nie herwinde materiaal sien nie.
Die kinemafotografie is goed genoeg, maar vergelyk sleg met dié in ander plaaslike films soos Wolwedans in die Skemer en Skoonheid wat die standaard vir fotografie so hoog gestel het nie.
Die karakters is stereotiep en boonop eendimensioneel. Hulle is vervelig uit die staanspoor uit en ontwikkel nie in iets meer nie. Jy het die mooi blondine, die agterbakse tang, die dood goeie held, die giggelende vriendinne, die tannies wat skinder, en dan die grootste teleurstelling, die stereotiepe moffie – die gay gossiping hairdresser.
Wêreldwyd word gay karakters in hedendaagse TV en films meer kompleks, meer realisties uitgebeeld. Hulle is nie meer evil oor hulle gay is nie, maar net toevallig evil én gay. (Javier Bardiem in die nuwe James Bond.) Hulle is nie meer fyn en huilerig nie, maar sterk en manlik. (Isaac Sirko in die nuutste seisoen van Dexter.)
Pretville het ’n ongelooflik goeie rolverdeling, maar die akteurs, ervare én onervare, word oordonder deur die musiek en die totale gebrek aan dialoog. Marlee van der Merwe het die show gesteel in Liefling, en sou dieselfde hier gedoen het as sy die kans gekry het.
Opsommend
Daar was sommige tonele wat belowend was en hopelik in die toekoms as boustene gebruik sal word. Die begrafnisprosessie (alhoewel totaal en al irrelevant vir die storielyn) se donker beligting en somber musiek kon amper oorgaan na iets meer dramaties, iets met meer lyf. Die blues in die tronktoneel was lekker. Emo Adams en Margit Meyer-Rodenbeck se kamee as die polisie was ook vrek snaaks. Hulle het “groot gegaan”, perfekte tydsberekening gehad en die karakters volgesit. Ja, dit was dalk hul presence/ervaring wat die wa deur die drif getrek het, maar die res van die akteurs en die film in die geheel is ingedoen deur die gebrek aan ’n goeie draaiboek.
Details
Regisseur: Linda Korsten
Rolverdeling: Marlee van der Merwe, Eugene Jensen, Marno van der Merwe, Terence Bridgett, Pierre Lukuveer, Annette Engelbrecht, Lizz Meiring, Steve Hofmeyr, Rina Nienaber, Emo Adams, Margit Meyer-Rodenbeck, Willem Botha, Sanet Ackerman, Kevin Leo en Jakkie Louw