Ons poskantoor-woonstelblok en die harde slag
GESKRYF VIR EN GEPUBLISEER DEUR NETWERK24
Ons woonstelblok sal nie die eerste prys wen vir ontwerp nie. In der waarheid lyk dit soos ‘n poskantoor. Ek dink ons het wel ontslae geraak van die potte in die vorm van olifantpote.
Drie geboue is in die 1950’s op een perseel, en lyk my teen ‘n streng begroting, gebou as ek die oorspronklike teëls en ingeboude kaste bekyk. Ook huisves die kompleks nog van die oorspronklike inwoners. Ek en die vrou pas goed in tussen al die oues van dae. Ek, veral, hou van ‘n geselsie oor ‘n koppie tee, en die effense uitgetrapte sluitsteen-stoepe en drie palmbome rondom die swembad pas ons soos ‘n handskoen.
Behalwe vir die 1950’s-poskantoor-sjarme, is ons kompleks een van die vriendelikste in Johannesburg. Die tarentale, van piepklein tot volstruisgrootte, streep in die somer deur die tuin, twee eende het al oorgestaan in die swembad vir ‘n paar weke en die gekko’s wil net nie terugtrek tuin toe nie.
Ons kweek groente op die balkonne en in deurgrootte tuintjies weggesteek op die boonste terras. Met ons eerste oespartytjie was die oudste inwoner 88 en die jongste twee weke oud. Ons oorweeg om ‘n paar hoenders aan te skaf.
Jy kan nie by jou kar uitkom sonder ‘n geselsie nie. Ons leen eiers by mekaar, gooi mekaar se groente nat as iemand met vakansie gaan en vat mekaar lughawe toe.
As ek ‘n boekbekendstelling hou, of my vrou ‘n nuwe openbare kunswerk teen ‘n muur vassement, sit die bure in die voorste gestoeltes. Hulle word nie eens afgesit deur ons skeefheid nie.
Klaarblyklik was die kompleks ‘n besienswaardigheid in die 1980’s. Mense het Sondagmiddag-uitstappies geneem en, miskien met die kinders op die agterste sitplek met ‘n roomys in die hand, in ons straat af gery.
Ek het verskeie weergawes van die storie gehoor, maar oor ‘n koppie tee vertel Jean, 93, toe vir my wat werklik gebeur het, in haar effense dramatiese opinie. Ek moet net meer oor Jean vertel. Die antie het tot op die laaste pêrels, sykouse en hofskoene gedra, en met daardie pêrels, sykouse en hofskoene in die parkeerarea op en af gestap vir oefening. Sy het ook nog self bestuur.
Op die oggend van die voorval was sy dan op die 3de vloer, reg langs die gebou waar die voorval ook op die 3de vloer sou plaasvind. Sy het dus die perfekte uitsig gehad. Hierdie is haar weergawe van die gebeurtenis.
Sy het vroegoggend een voet in die bad gehad toe sy ‘n harde slag hoor. “My love?”, het sy uitgeroep. (Haar woorde, ek belowe.) Toe haar “love”, haar man, nie antwoord nie, het sy haar japon aangetrek en saam met die res van die verdwaasde inwoners op die stoep gaan staan.
Op die 3de vloer van die gebou langs hulle, in die woonkamer van ‘n bejaarde paartjie, het ‘n kleinerige vliegtuig gerus.
Volgens oorlewering, en Jean, het die loods se vrou hom gelos. Hy het reeds onder die invloed van alkohol, en natuurlik hartseer, van die Randse Lughawe in sy eie vliegtuig opgestyg. Sy doel voor oë, bespiegel mense, was om in sy vrou se huis vas te vlieg en haar saam te neem Valhalla toe. As hy haar nie kan hê nie, kan niemand haar hê nie. Sy vrou se huis was net agter ons kompleks. Hy het dit bo-oor ons eerste gebou gemaak, maar volgens vermoede toe sy bewussyn verloor, afgesak en in die tweede gebou vasgevlieg.
Nou vertel Jean, hier steek die agterkant van die vliegtuigie uit ‘n ou paartjie se woonstel uit. Sy sien ook die geskokte paartjie heen en weer hardloop in dieselfde woonkamer en toe in mekaar se arms in hardloop en omhels.
Toe ontplof die vliegtuig.
Die vensters breek in skerwe. Die gordyne dryf ondertoe. ‘n Wiegstoel in hul slaapkamer wieg vorentoe en agtertoe.