Nommers 1 tot 5
Vrydagoggend, net voor ek in die kar spring om hooi te gaan koop, stap ek uit op my stoep en tel die vyf konynkinders in die tuin. Dit is ʼn gewoonte.
#1
Kerneels, of vir dié skrywe gedoop Burt Reynolds, lê reg voor my woonstel op die gras soos Burt in 1972 op die voorblad van Cosmopolitan verskyn het: kaal gedrapeer op ʼn beervel, vol houding en hare. Kerneels verwag ʼn bederfie en hy weet watter woonstel hou bederfies. Hy was net ʼn dag vantevore in die Warrington Hospitaal oor sy maag nie lekker was nie. Kerneels het nie brieke nie. Dan verstop hy homself en skakel my totale huishouding oor na paniek. Kerneels voel ʼn veer dat 2020/1 almal se adrenalien reserwes leeg gesuig het.
#2 en #3
Sagrys en Pieter (Kerneels se boetie en pa), staan op aandag in die middel van die rollende grasperk. Iets het hulle onrustig. Kan die buurkat wees, ʼn aggressiewe gemmer wat als in sy pad moor, of die gholfbaanvalk wat nou en dan oor die tuin sweef.
Pieter sorteer sy twee laities uit wanneer hulle happerig met mekaar raak. Hy jaag een broer links, en die ander regs. Dan bied ek vir hom ʼn bederfie aan. Ek moet sit, ek moet my hand uithou en, die belangrikste, ek moet hom op sy naam roep, voor hy kom. Pieter is trots.
Sagrys is onrustig gebore. Hy staan permanent op aandag. Hy vertrou niemand nie, maar hy is nie onnosel nie. Hy was ook ʼn week gelede in die Warrington Hospitaal. Die einste gemmer het sy oog beseer. Hy het trots weggehardloop, maar dit stadig genoeg gedoen sodat ek hom kon opraap. Na 48 uur se twee-uurlikse toedien van oogdruppels, waarvoor hy gemoedelik sy linkeroog lig toe gedraai het, het hy 100% herstel. Nou as ek hom in die tuin besoek, en die ander konyne ver is, dan druk hy sy neus teen my knie. Dankie.
#4
Katryn (Kerneels en Sagrys se sussie) staan ook op aandag. Wel aan die onderkant van die rollende tuin. Sy hou ʼn oog, maar ook haar afstand. Sy is nie bang nie. Sy is net nie gepla nie. Wanneer haar boeties byvoorbeeld baklei, sak sy weg in ʼn bedding onder ʼn struik.
Wat wel haar beweeg, wat haar vinnig tot aksie laat oorgaan is ʼn bederfie. Of sy nou oor die grasperk aankom, of van onder ʼn struik verskyn, sy beweeg met mening en spoed. Meestal hardloop sy in my hand vas, maar het ook al my bene getref. Dit het ʼn wyle geneem, maar sy respekteer nou waar die bederfie eindig en my vingers begin.
#5
Stoffel, die matriarg, lê in diep skaduwee aan die bokant van die rollende tuin met haar rug gekeer op die drama. Haar soldate sal die gevaar uitsorteer, weet sy, en die Warrington Hospitaal sal die wonde verbind. Sy het vrede. Die somerswind waai klein duikies in haar pels, die grond onder haar is heerlik koel.
Ek volg die twee soldate al die pad op teen die rollende tuin tot hulle te staan kom voor die grensmuur. Hulle snuif-snuif aan die lug, hulle draai die antenna-ore in alle rigtings. Hulle vat elkeen ʼn bederfie. Hulle werk hard. Hulle staan altyd tussen die gevaar en die res van die familie.
Die drie van ons verklaar die situasie as veilig. Dit was ʼn lawwe Uber-drywer wat roekeloos was met ʼn spoedhobbel.
Ek stap terug woonstel toe. Stoffel rek en gaap. Katryn eet aan ʼn blom. Burt Reynolds lê nog steeds voor my woonstel.