GESKRYF VIR EN GEPUBLISEER DEUR NETWERK24
In 2013 beland my pa in ’n tehuis. Sy niere het ingegee, so ook sy moed. Hy weier om te eet. Hy het agt jaar vantevore ’n beroerte gehad en dit het sy lyf en mond by hom gesteel en my kans om met hom te kan vrede maak by mý gesteel. Ons het erg kop gestamp oor verskeie goed. Die uiteinde van die saak was ’n totale verbrokkeling.
Terwyl hy in die tehuis lê, word ek ’n paar dae gegun om twee dinge te doen. Een: ek kan vir hom sê, No hard feelings. Daar is seker ’n meer poëtiese manier van dit sê, maar No hard feelingssê tog wat dit moet en dit is al waaraan ek kon dink op daardie oomblik. Ek sê dit wel terwyl hy vas slaap. Die verpleegsters kry hom nie wakker nie.
Twee: die meer belangrike van die twee punte – ek kan vir hom sê ek is lief vir hom, en vir daardie woorde, ‘Ek is lief vir jou, pa’, maak hy wel sy oë oop toe ek my hand op sy bors sit. Op die vraag, ‘Verstaan jy?’, antwoord hy selfs: ‘Ja’.
Die laaste dag wat ek soontoe ry, staan die R59 stil as gevolg van padwerke en mis ek sy dood met vyf minute.
Ek baklei teen my instink om in my dop te kruip en die wêreld agter te laat, deur langs sy sterfbed my vriende al te laat weet. My pa is weg.
Daar word ’n besluit geneem om nie begrafnis te hou nie. Daar is nie ’n dominee in die prentjie nie, al sy vriende het opgedroog, die familie is ver … dít is net ’n paar redes vir die besluit. Dit voel tog vreemd dat hy net so in die niet verdwyn.
My kopdokter-vriendin, Joanne, sê om begrafnis te hou is ’n ritueel wat jou help groet. Sy stel voor ek kry my eie ritueel.
Dit is in ’n plaaslike drankwinkel voor die whiskey-rak waar ek onbeskryflik bewoë raak. My pa het gehou van ’n goeie whiskey op ’n Sondag, of hy nou snoek of steak braai. Vir die plonkers het hy die Chivas geskink. Ek koop dus die duurste bottel whiskey wat my begroting sal toelaat. Ek het my ritueel gekry.