Modder en Bloed

April 24, 2017

Eerstens is die naam Modder en bloed misleidend. Dit klink na ʼn film wat bloot derms uitryg. Natuurlik is daar geweld en hartseer in die film. Dit speel tog af tydens die tragiese Anglo-Boereoorlog. Uiteindelik is hierdie film wel ʼn epiese goedvoelfliek met ʼn reusagtige hart en ʼn wonderlike storie.

Politiek

Die vertel van Suid-Afrikaanse stories, en die manier waarop dit vertel word, is uiters belangrik in ons huidige politiese klimaat. Stories raak mense, dit kan hulle empatie laat voel vir “die ander”, maar mens moet fyn trap. Modder en bloed kry volgens my daardie balans reg. (En soos ek hier tik weet ek ek haal vir myself moeilikheid op die hals. Nou ja. Gooi!) Alhoewel die film onbeskaamd pro-Afrikaner is, en die Souties lelik deurloop, het dit nie vir my gevoel soos ʼn les in konserwatiewe patriotisme of in vingerwys nie, maar eerder as ʼn herinnering aan wat die Afrikaner al oorkom het, en ook wat enige onderdrukte groep, die welbekende underdog, kan oorkom. Ek hoop van harte die verkrampte faksies op alle kante van die spektrum kaap nie hierdie universele film vir hul eie agenda nie.

Filmskool

Die wêreldbekende fotograaf David Goldblatt het eens gesê ʼn goeie foto word nie oorheers deur die tegniek, die kleur treatment of die beperkte fokus nie. Dít alles vorm ʼn geheel. Modder en bloed se kinematografie is so besonders dat dit die omgewing, die beligting, die karakters en die aksietonele vasvang sonder dat dit steurend is. Met ander woorde, dit vorm ʼn geheel.

Die toneelspel is deur die bank indrukwekkend. Akteurs is aangestel, nie sangers of bekendes of bloot mooi gesiggies nie. (Alhoewel die hele span verbasend aantreklik is. Magtag.) Ek moet noem dat Stian Bam se gematigde Willem Morkel en Grant Swanby se afskuwelike Kolonel Swannel uitstaan.

Die stelle, die klere en die stilering voer mens terug na 1901. Soos met die kamerawerk, word dit deel van die foutlose geheel. Die produksiegehalte is ook topgehalte. Die draaiboek vloei lekker, die dialoog is vars en geloofbaar. Die karakters, van klein tot groot, maak ʼn indruk. Alhoewel die Britte die antagoniste is, is daar goeie siele onder hulle wat die gevangenes help. Daar is ʼn goeie balans tussen die humor, die drama en die historiese informasie wat die fliek deurgee.

Twee hoogtepunte

Een, dit is so ʼn lekker en komplekse storie om te vertel. Dit kombineer die Anglo-Boereoorlog, die fassinerende geskiedenis van St Helena, die Britte wat rugby na die kontinent gebring het en die onder mekaar bakleiery van die Afrikaner tydens die oorlog. Daar is nog sulke Suid-Afrikaanse stories en ek hoop Dark Matter Studios en Sean Else hou aan vertel.

Twee, dit is ʼn goedvoelfliek van epiese proporsies – een wat met enige gevoelfliek van Hollywood vergelyk kan word. Daar is hartseer, drama, humor, opwinding en ʼn goeie dosis menslikheid. Ek het skoon ʼn traan gepink toe hulle die “Springbokken”-embleem onthul het, weggeskram vir die baba met die noodlottige koeëlwond, maar dan ook lekker gelag vir die hardegatgeid van die Afrikaner. (Veral David Louw se Randfonteinmyner is ʼn treat.)

Modder en bloed is ʼn nuwe hoofstuk in die Suid-Afrikaanse filmbedryf.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

The Assignment Previous post The Assignment
Allegiant Next post Allegiant
Total: