Midnight in Paris: Nie ‘n ligsinnige romanse nie
First published on www.sarie.com.
Enige iemand wat al in Parys (Frankryk, nie Vrystaat nie) was, weet watse betowering die stad inhou. Dit lê in die kanale, die nou klippaadjies, die laatnag kuiery in kafees, die Notre Dame wat soos ʼn gotiese spinnekop op ‘n eiland sit en natuurlik in die locals – die norses en vriendelikes. Natuurlik gaan Woody Allen, soos vele ander filmmakers, ‘n film hier wil skiet.
Storie
Gil, ʼn suksesvolle Hollywood draaiboekskrywer, besoek Parys saam met sy verloofde, Inez, en haar ouers. Gil raak verlief op die stad en besluit dat Parys in die 1920’s die ‘Goue Era’ was. Hy wil in die reën loop, ʼn dakwoonstel koop en soontoe trek. Inez en haar ouers is slegs bekommerd oor sy winsgewende, dog sieldodende beroep as ‘Hollywood hired hand’.
Op ʼn aand wat Inez wil gaan dans, besluit Gil om eerder hotel toe te stap. Hy raak verlore en ontdek teen middernag ʼn heel ander sy van Parys.
Hoogtepunte
Midnight in Paris is deur en deur ʼn romantiese film. Eerstens, is dit geskiet in die mooi, toeriste Parys. Tweedens is Gil ʼn sagte, ordentlike karakter wat grootoog voor die lewe staan en geld, roem en alles plasties wil opgee om sy eerste roman te skryf. Derdens, beeld Woody Allen groot geeste soos Hemingway, Fitsgerald, Picasso, Dali, Gertrude Stein uit as charismatiese, alwetende karakters wat voluit en met groot wysheid leef.
Amerika loop deur onder Allen se kritiek. Inez en haar ouers is die versinnebeelding van Amerikaanse vraatsug. In Gil se bewondering vir Parys sien Inez net die armoede wat klaarblyklik haar toekoms is. Haar ouers doen besigheid met die Franse, maar kla oor hulle politiek en gaan kyk Amerikaanse films wanneer op vakansie in Parys.
Owen Wilson verbaas as die sensitiewe Gil. Sy vertolking is so naby aan Woody Allen se eie toneelspel dat dit op plekke surrealisties is. Sy onderdanige fisiese houding, effense neurose, uit pas uit wees met die wêreld en die heroorweeg van alles is klassieke Allen.
Kyk uit vir die enigmatiese Adrian Brody as Salvador Dali.
Gil beweeg met gemak tussen die gewone Parys in die dag en die ‘ander Parys’ in die nag. Woody het die film so goed aanmekaar gesit dat mens wonder of die ‘ander Parys’ regtig bestaan het en of dit bloot Gil se verbeelding was wat op hol gegaan het tydens sy middernagtelike uitstappies.
Laagtepunte
Woody Allen is ‘n regisseur met ʼn baie duidelike styl, ʼn styl waarvan jy of hou, of wat jy haat. Sy films is bekend vir lang dialoë oor onbelangrike details, een hoofkarakter wat gewoonlik ʼn mate van angs/skuldgevoelens ervaar, ʼn skerp, maar snydende sin vir humor en ʼn komplekse draaiboek en dialoog wat vinnig vloei.
Alhoewel Midnight in Paris ʼn ligter, meer romantiese, minder angsbevange Allen films is, is dit steeds ʼn Woody Allen film.
Vir wie sal ek dit aanbeveel
Woody Allen aanhangers. Owen Wilson aanhangers. Francophiles. Fliekgangers wat hou van skerp dialoog.
Opsommend
Gil glo Parys in die 1920’s in die reën is die ‘Goue Era’. Midnight in Paris vra watter era jy dink die ‘Goue Era’ was waartydens jy sou wou leef? En hunker jy daarna as gevolg van ‘n nostalgie oor die era, of oor jy bloot jou huidige lewe wil ontsnap.