Lucinda Williams en Pick ‘n Pay se kragopwekker (MUSIC)
Die dominee druk sy kop by die venster uit. Ja, sê hy dikbek, Pick ʼn Pay se generator gor-gor deur die dorp. Dit beteken dit is Eskom ‘load shedding’. Vir ʼn halfuur sit ons dikbek in die voorkamer en wyn proe. Ek het egter ʼn blink idee en die twee van ons sluip in die kerk se rigting waar my liefste Ford KA in die son staan en bak.
Die Dominee vou sy 6voet2 raamwerk inmekaar en ons grinnik oor en weer vir mekaar. So bevind ek myself op ʼn Saterdagmiddag geparkeer voor die Hervormde Kerk. Soos regte maplotters staan die kar deure oop en weergalm die musiek deur die buurt. Dis gelukkig gehalte musiek, oortuig ek myself en ons tune darem nie die enjin nie.
Die Dominee kry ʼn glinster in die oog en sê, Wag hier. Hy keer terug met ʼn album getiteld ‘West’. Hy druk die CD in, kies nommer 5 en hou besitlik eers die ‘cover’ terug. Dis ons gewone roetine. Die een wat luister moet raai wie en wat dit is en natuurlik oeee en aaaa. Die teleurstelling is reusagtig as dit wel gebeur dat die luisteraar nie van die musiek hou nie. Die partikulêre Saterdag is my vriend se ego veilig. Dit vat presies 5min42sek om my ʼn Lucinda Williams groupie te maak.
Sy klink amper soos Marianne Faithful, sommige (ongekunstelde, in my opinie) mense sal selfs sê sy is vals. Hmff. Die production op die album is perfek, die kunstenaars wat bydrae bekend in hulle eie reg en haar kwansuis perfeksionistiese stempel kan jy duidelik hoor.
Die album is nie vir bangbroeke nie. Dis nie ligte popvermaak nie. Dis stadige, droewige blues, rock en ja, ek sal dit herken, effens ‘country’.
Die album handel klaarblyklik oor die dood van haar ma en ʼn verhouding wat beëindig is. Ek sit ʼn kort aanhaling uit ‘Unsuffer me’ in.
“Unlock my love
and set me free
come fill me up
with ecstasy
surround my heartbeat
with your fingertips
unbound my feet
untie my wrists
come in to my world
of loneliness
and wickedness
and bitterness
Unlock my love
Unsuffer me
Take away the pain
Unbruise unbloddy
Wash away the stain
Anoint my head
With your sweet kiss
My joy is dead
I long for bliss
I long for knowledge
Whisper in my ear
Undo my logic, undo my fear
Unsuffer me”
Jinne.