Krotoa

July 26, 2017

As ’n Suid-Afrikaanse film agt internasionale filmpryse inpalm, is ek, soos die meeste Suid-Afrikaners, voor die voet trots en opgewonde om dit te sien. Die teleurstelling was derhalwe groot toe ek ten einde laaste die (ongelooflike) storie van Krotoa op die silwerdoek te siene kry.

Kom ons begin by die onderdele van ’n film. Die gehalte van plaaslike kinematografie is wêreldklas. Daar is gevolglik geen verskoning vir die ondergemiddelde kamerawerk van Krotoa nie. Jy kan nie op die asemrowende landskap alleen vertrou nie.

Wat stilering aanbetref, skiet die film erg tekort. Die haarverlengings van die mans is ooglopend en steurend. Die kostuums is amateuragtig. Die binnekant van die fort lyk asof iemand ’n paar stukke fluweel oor ’n hemelbed gedrapeer het. Die Khoisan-nedersettings voel haastig aanmekaargeplak. Krotoa voel soos ’n kleedrepetisie vir ’n toneelstuk wat nog baie werk nodig het.

Die karakters is eendimensioneel en daarom voel jy niks vir hulle lot nie. Die dialoog is stokkerig en Nama voel ongemaklik in die monde van akteurs wat dit vinnig moes aanleer.

Die grootste probleem is egter die melodrama. Krotoa voel soos ’n sepie wat op SABC2 hoort – ’n klomp gebeure word aanmekaargeflans, tydverloop is irrelevant en die ooglopende word nog meer ooglopend gemaak, als vir dramatiese effek. Die toneelspel is daarbenewens ook melodramaties. Hoe kan ’n mens byvoorbeeld die gesoute Deon Lotz laat sleg lyk?

Ek is seker die film gaan boonop aanstoot gee op ’n politiese vlak. Ek laat egter daardie ingewikkelde essays oor aan mense met meer kennis en deursettingsvermoë.

Die storie van Krotoa is fassinerend en behoort vertel te word, maar op ’n geloofwaardige en respekvolle manier.

*Spoiler alert*

Die finale strooi, en die moment wat ek uitgeloop het, is toe Krotoa vir Jan van Riebeeck vergewe vir die feit dat hy haar verkrag het. Nee man.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: