KKNK – 1 April ‘As die broek pas’
Dalk luister ek te veel Lady Gaga. Sy vat komplekse konsepte (seksuele identiteit) en kabaret-style opvoerings en maak dit nie net toegangklik nie, maar ook supercool. Sy is besig om die massas op te voed.
As die broek pas se temas is relevant en die tour de force, Antoinette Kellermann, is gebore om Ella te speel, maar tog het ek gesukkel om vatplek te kry aan die draaiboek en met tye sommer heeltemal die draad van die storie verloor.
In ʼn neutedop…
In Duitsland, tussen die twee wêreldoorloë, is werk skaars en uitsluitlik bedoel vir mans. Wanneer Ella se man sterf neem sy sy identiteit en werk oor en sukkel sy die res van haar lewe om haar eie seksuele identiteit as die man wat sy is maar die vrou wat sy wil wees te definieer.
Die probleem met die stuk…
As die broek pas is ʼn intelligente, maar geweldige swaar toneelstuk. Die dialoog beweeg baie vinnig, die beweeg van een milieu tot die volgende is verwarrend en die verskillende rolle waarin Antoinette Kellermann so gemaklik in en uit glip het nie net my kop laat draai nie – ʼn paar ander mense in die gehoor het nou en dan ʼn buurman of vrou gevra om te verduidelik.
Die hoogtepunt…
Antoinette Kellermann.
Produksie…
Die gebruik van beligting, losstaande ligte en ‘hand puppets’ was uitsonderlik. Alhoewel ek nie elke maal die dialoog kon volg nie, het die skielike verandering in beligting dit duidelik gemaak dat iemand anders aan bewoord is.
Aan wie sal ek dit aanbeveel?
Aan brawe siele wat hou van swaar, uitmergelende drama.