Kampterrein
As jy van ’n lawwe komedie hou, ’n komedie wat boonop brandewyn & Coke en visvang insluit, en jy net vermaak wil word, moenie verder lees nie. Gaan kyk Kampterrein en ondersteun die mense wat hard daaraan gewerk het. Die meeste van my gripes met die film sal die algemene filmganger nie pla nie.
As jy meer as lou grappe, stereotipering en oppervlakkigheid van jou films verwag, lees maar verder en besluit self of jy Kampterrein gaan aandurf.
Daar was ’n paar lekker grappe aan die begin. Dit raak egter yl gesaai na die eerste veertig minute. Ek dink die resep vir ’n goeie komedie is ’n fyn sin vir humor gekombineer met diepte en menslikheid. Anders raak dit vervelig. Beide Sy klink soos lente en Vir die voëls het my hardop laat lag, maar ook laat nadink oor die rol van vrouens, materialisme, die grensoorlog, ens. Kampterrein het ongelukkig geen diepte nie.
Die stadige opbou tot die tente opgeslaan is, was belowend. (Ek het veral van die Wimpy-toneel gehou.) Drie verskillende families se benadering tot kampeer is goed uitgebeeld. In die middel van die fliek, waar die tempo begin optel en dinge moet skeefloop, het die wa se wiele afgekom. Die scenario’s was nie geloofwaardig nie (mevrou Khumalo wat in die verkeerde karavaan slaap; Susan wat twee mans met ’n pakslae-plank moker). Van die tonele was bloot oortollig of heeltemal te lank. (Die toneel waar Genevieve vir oom Gert groet was pynigend.)
Van die karakters moes in die snippermandjie geëindig het. Kaz McFadden se Kareltjie was net laf en ek weet nou nog nie wat Marlee van der Merwe in die film gemaak het nie. Ek het baie waardering vir McFadden se comedic timing en Van der Merwe se talent (sy was die enigste hoogtepunt in Liefling) – gee hulle net ordentlike rolle, asseblief. McFadden kan meer as slapstick baasraak en Van der Merwe is baie meer as eye candy.
Die film is goed geskiet en gestileer, maar dit maak nie saak as die res van die dele nie saamwerk nie.
Die musiek was aaklig. Doef-doef Afrikaanse twak. Ons het ’n ryk musiekkultuur. Keeping up with the Kandesamys, Sy klink soos lente, Johnny is nie dood nie, en ander het byvoorbeeld klankbane wat ek sou koop. Keeping up with the Kandesamys het egter ongelukkig nét ’n lekker klankbaan, en niks andersins nie.
Ek is nie deel van die Polities-Korrekte Polisie nie. Manchester by the sea het byvoorbeeld ’n ongelooflike bydrae tot die filmbedryf en sommer tot die lewe gelewer, maar word nou uitgehaal deur die PKP oor die white privilege blykbaar die meriete van die film oorskadu. Dit is onnodig. Die vervaardiger van die film, die baanbreker Kimberly Steward, ’n African-American vrou wat vir ’n Oscar benoem is vir die film, het die volgende te sê in die Huffington Post: “I really was able to identify with the film as an African-American woman because I saw my own extended family dynamics and have family members that have dealt with very tragic situations.”
’n Film moet dus erg sondig voor ek iets sê. Sommige films gebruik stereotiepe karakters as ’n manier om jou in te trek. Jy ken daardie tipe persoon. Jy weet wat om te verwag. Goeie films gaan egter verder deur die stereotipe op sy kop te draai, deur ’n ander dimensie aan ’n karakter te gee wat jou jou eie vooroordeel laat betwyfel. Kampterrein se stereotipes staan bankvas. Die vroue (en gay mans) giggel onbeheerst of gil histeries. Die manne drink brandewyn en vang deur die nag vis. Die jong meisies loop in bikini’s rond. (Regtig? ’n Bikini-kompetisie?) Die jong laities is jags. Die baie growwe hokkiejuffrou hou ’n span jong meisies in haar tent aan. (Ek kon een keer lag toe die twee stoutgat laities haar “oom” noem. Toe ’n volwasse karakter saam met hulle lag oor hulle haar geslag keer op keer verkeerd kry, was ek ongemaklik.)
Opsommend, Kampterrein is louwarm vermaak en grens boonop aan aanstootlik wees.