Jagveld
Karoo Films se Facebook-blad beskryf hulle eie film as “polsende aksie in ware ‘Quentin Tarantino-styl’ wat die kyker uitdaag”.
Kom ons vat Tarantino se eerste paar films as draaiboekskrywer en regisseur: Reservoir dogs, True romance, Pulp fiction en beide Kill Bills. Dit was grensverskuiwende skop-skiet-en-donder-flieks.
Die geweld was uitsonderlik grafies, maar ook vars en komieklik met tye. (Die oor-afsny-toneel? James Gandolfini wat Patricia Arquette die loesing van ’n leeftyd gee en sy wat vir hom lag?) Die aksie was vinnig, verbysterend. (Uma het moeiteloos wraak geneem in daardie geel sweetpakkie.) Die humor was donker. (Harsings in Samuel L Jackson se hare? Daardie adrenalien-inspuiting in die hart.) Die karakters was kompleks – goed en sleg, sjarmant en walglik. (Wie het nie verlief geraak op Patricia Arquette as prostituut wat als waag vir ware liefde nie?) Tarantino het die snaakse, dog vervelige one-liners van aksiefilms vervang met skerp, snaakse en relevante dialoog. (Elke liewe debat tussen Travolta en Jackson in Pulp fiction.) Tarantino het ook die konsep van ’n filmklankbaan herontwerp en clichés uit die water uit geblaas. Sy films het hart en siel, maar is bowenal ongelooflik lekker vermaak.
Kom ons kyk nou na Jagveld. Die geweld was vervelig. Onthou, kykers is deesdae gewoond aan baie meer grafiese/interessante/komiese geweld. Ons kyk True detective of Westworld saam met aandete en ’n glas wyn op ’n weeksaand. Moes dit skokkend gewees het oor die geweld in ’n Afrikaanse film gepleeg word? Moet ons nie beledig nie.
Die aksie was louwarm. Ses ouens jaag ’n meisie deur ’n Karoo-landskap. Sy maai hulle af op meestal onoorspronklike maniere. (Die strykyster was wel lekker.) Ek was opgewonde oor die plaasimplement wat sy in gedagte gehad het vir Bouwer Bosch se karakter, en toe wys die film nie hoe sy dit gebruik nie. Leandie was fisies oortuigend wanneer sy oor drade spring of by berge opklim, maar wanneer dit kom by die bakleiery, het dit opgestel en geoefen gelyk.
Die karakters was eendimensioneel en die toneelspel glad nie oortuigend nie. Ek het nie vir ’n oomblik geglo in die dwelmsmokkelaars se boosheid, in Tertius Meintjies se vaderlike liefde of in Emma se staal nie. Slegs Edwin van der Walt se Boela was uitsonderlik grillerig. Ek het Deon Meyer se komplekse, maltrap, maar uiters menslike karakters verwag.
Die dialoog was nie skerp of vars nie. Bosman blaf bevele. Piet sê jammer. Emma gil of huil. (Sy hyg ook ontsettend baie.) Daar was tonele waar die karakters te veel praat en te min doen. (Baz snuffel deur Emma se kar en rapporteer elke liewe dingetjie oor die radio aan Bosman. Uiters vervelig.)
Jagveld het nie veel vleis aan die been nie. Emma se pa was ’n recce. Hy het haar opgelei van ouderdom ses tot sestien. Ses dwelmsmokkelaars kom oor haar pad. Hulle sê les op. O, ja, haar ma is dood.
Vergelyk dit met David Mackenzie se Hell or high water. Dit gaan oor twee uiteenlopende broers – die een sag en eerbaar, die ander rof en sonder gewete – wat tog uit broederliefde die rooftogte saam aanpak. Die vriendskap tussen die twee sheriffs, die een wit, die ander ’n Indiaan, sê soveel oor rasseverhoudinge. Die feit dat die broers net geld by ’n spesifieke bank roof en met daardie geld hulle lening by daardie selfde bank gaan afbetaal, lewer kommentaar op hoe die gemiddelde Amerikaner geknou is deur die eiendomskandaal in Amerika. (Kyk gerus The big short indien jy dit nog nie gedoen het nie.)
Jagveld se storielyn is ook nie geloofwaardig nie. ’n Enkele verkeerskonstabel in die middel van nêrens gaan nie ’n kar aftrek om geen rede nie. As ’n tweede burgerlike kar dan boonop aftrek en hulp aan die polisieman aanbied, gaan die konstabel dadelik weet iets skort.
Emma was te ver om werklik die skuldiges te kon identifiseer – hulle kon haar net laat spaander het en self padgegee het. As hulle haar dan móét agternasit, hoekom hardloop al ses ouens agter haar aan en los die kar vol dwelms alleen agter?
Emma se kopskuif van onskuldige slagoffer na opgeleide soldaat sou gebeur het toe Boela haar die eerste keer wou aanrand. Die situasie was ondraaglik. (Een van die meer suksesvolle tonele in die film.)
Die hele rugsak vol kampeertoerusting in haar kattebak is net te gerieflik. Haar aanvallers wat na die kattebak kyk en sommer weet sy het iets uitgehaal, is laf.
Emma kry ’n paar keer ernstig pak slae, maar sy is blykbaar Bruce Willis in Unbreakable. As iemand jou gesig deur ’n glasdeur kletter, gaan jy ’n paar steke nodig hê.
Die film is melodramaties – Emma se kopskuiftoneel byvoorbeeld. Die heen-en-weer tussen die bebloede mes, die nabyskoot van haar oë en die wye skoot van die dam was te dramaties vir woorde. Ek wou hardop sê: “We get the point.” Hier is ’n belangrike oomblik. Sy ondergaan ’n gedaanteverwisseling. Laat dit oor aan Leandie om die moment te speel.
Die hereniging tussen pa en dogter met die twee kreupel mense wat na mekaar toe hardloop, was ook een te veel. Boela se tantrum toe hy besef Emma het losgekom, was oordadig. So ook AJ wat omtrent drie keer naar word oor Boela se dood. Die lys gaan aan.
Ek het die Engelse onderskrifte heeltemal geïgnoreer, omdat ek Afrikaans geniet. Ek het een keer per ongeluk afgekyk en gesien “Dit is wat sy verdien” is vertaal met “That is what she deserts.” Eina.
Opsommend: die grootste sondebokke is die powere draaiboek en die rigtinglose regie.