Getroud met Rugby
Laat ek net eerstens my hand oplig en sê, ek het nog nie een episode van die reeks Getroud met Rugby gesien nie. Inderwaarheid het ek nie geweet van die reeks tot ek die film se voorprent gesien het nie. Ahem. Hier volg my resensie in elk geval.
Kan jy nou meer? Getroud met Rugby was glad nie sleg nie! Ek sal selfs sover gaan as om te sê ek het dit geniet. Na Liefling en Eternity het ek nie veel hoop gehad vir die Suid-Afrikaanse film industrie nie. Getroud met Rugby is definitief ʼn stap in die regte rigting.
Die goeie
Die kinematografie (het julle al sulke korrekte Afrikaans in my resensies gelees?) was uitstekend. Daar is direk in die son in geskiet, gewerk met skaduwees, interessante angles is probeer en die verfilming van beweging – hardloop, die rugby self – was uiters effektief.
Meeste van die akteurs kon toneel speel! ʼn Raarheid deesdae. Die rol van Reghart Venter eis egter nie veel nie, so ons sal moet sien of Izak Davel meer kan doen as bedonderd lyk en sy borskas afwys.
Behalwe vir een reël dialoog hier, ʼn soft focus angle daar, is die scmaltz in die film beperk tot die minimum. Jippie!
Die film is nie pretensieus nie, die props is realisties en daar is nie te veel ingemeng met die natuurlike kleur van die film nie. Met ander woorde, daar was geen sepia oomblikke nie.
Die cameo rolle is nie bloot gebruik om bekende mense in die film in te werk nie, maar is a) eerder ontwikkel as treffende karakters in hulle eie reg, en b) dan vertolk deur sterk akteurs. Michelle die stripper met die goeie lyf, ag ek bedoel goeie hart, ontlok empatie. Eckardt Rabe trek die rol van die snobistiese skoonpa met gemak aan. Reghart se twee lojale, maar dom vrinne is heel oulik.
Die slegte
Kameras wat met die hand vasgehou word, is baie effektief wanneer jy spanning probeer skep, die kyker doelbewus wil disoriënteer, ens. Wanneer dit kom by nabyskote, of die verfilming van ʼn doodgewone toneel waar akteurs rustig gesels, sit die verdomde kamera op ʼn driepoot! Ek was naderhand seesiek.
Ons weet die Venter laaitjie (Davel) is ʼn goeie ou, dat sy hart ‘reg’ is. Dit is wel onnodig en ongelooflik cheesy om sy naam so te spel: Reghart! Kom nou.
Met ʼn titel soos Getroud met Rugby weet jy waarvoor jy jouself inlaat. ʼn Eenvoudige, feel good film wat nie veel eis nie. Die storie was egter te eenvoudig, te ongekompliseerd. Twee ouens oorkom die spoke wat hulle jaag. Niks meer nie.
Die ‘jagmes’ storie is bietjie verregaande.
Opsommend
Isak Davel het ʼn fanclub. Hulle het agter my gesit en gegiggel elke keer wat hy iemand bliksem of sy hemp uittrek. Toe ek hulle vra om sagter te kuier, het hulle gesê ek kan skuif. Weet jy!
Die punt van die relaas is nie oor wat ek hulle toegevoeg het nie, maar dat Isak ʼn fanclub het. Wat beteken dat die Afrikaanse film industrie lewendig is. Ons ontwikkel ons eie sterre. Mense betaal om daardie sterre te sien. Dit is goeie nuus.
Nou kan ek nie wag vir Bloedsuiers om te begin wys nie!
Getroud met Rugby kry 70%.
.