Geluk by die ongeluk

October 15, 2013

Geskryf vir en gepubliseer deur www.rapport.co.za

My ma se wit Hyundai Atos is haar vierde kind. Moontlik haar gunstelingkind. Dit is die eerste karretjie wat sy vir haarself gekoop het – uit die boks uit. Die Vierde Kind praat boonop nie terug nie, sal nooit die buurt wakker hou met Bruce Springsteen Live in New York nie en sal vir seker nie op negentien vroegoggend by die huis inslinger en op die vraag “Waar was jy?” bloot antwoord “Uit” nie.

Natuurlik ry ek hierdie week met die Vierde Kind agterin ’n Mercedes vas. Natuurlik sit my ma in die passasiersitplek. Natuurlik is ons op pad na die vyfvoet-, maar verstommend sterk Chinees toe wat my ma se reeds kranklike nek en rug probeer regtrek. Ai.

Terwyl Jenny my ma se nek rek ter voorbereiding vir moontlike moeilikheid, staan ek buite in die misreën voor die Vierde Kind en rapporteer die skade aan die versekeringsmaatskappy. Hulle is beïndruk dat ek foto’s geneem het. Ek voel net sleg.

Die ongeluk speel oor en oor in my gedagtes af. Het ek te vinnig gery? Was ek te naby aan die Mercedes? Was dit die reën? Die olie op die pad?

Wanneer ek bel, gesels my ma asof niks gebeur het nie. Woensdag vra ek haar reguit: Hoe voel Ma?

Ek is pimpel en pers en seer oraloor, antwoord sy.

Ek verloor nog twee jaar voor ek besef sy praat van die Chinees se marteling. Ek bedoel hoe voel Ma ná die ongeluk?

Ag, dit was nie ’n ongeluk nie, sê sy.

Met die Karmann Ghia is ek deur die windskerm. Met tannie Suzie se Mercedes moes hulle die deur oopbreek. Met die Volvo was die helfte van die kar so hoog soos die sypaadjie. Dus, nee, tensy ek handeviervoet uit die wrak moet uitklim, is dit nie ’n ongeluk nie. Vergeet nou daarvan.

    Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Total: