Game of Thrones se finale seisoen – ewe veel pyn en plesier
Dit was ’n onbegonne taak vir die arme skrywers van seisoen 8, om aan miljoene (fanatiese) bewonderaars se verwagtinge te voldoen, om al die moord en geweld en intrige in seisoene 1 tot 7 te regverdig, en om die beste TV-reeks van die 21ste eeu netjies af te rond. Ek is seker daar was baie laat aande, bitter sterk koffie en uitgerafelde senuwees.
Seisoen 8 was net so frustrerend en bevredigend as die eerste seisoene, wat ook maar goeie en slegte episodes gehad het. Die enigste verskil? Met die vorige seisoene het ons die foute vergewe, want daar sou nog ’n seisoen wees om daarvoor te vergoed. Natuurlik is dit nie die geval met die laaste seisoen nie (en is ’n groep bewonderaars lelik die moer in).
Ontknopings
Ek verstaan van die frustrasies en teleurstellings. Moes Brienne, ’n forse en gedetermineerde ridder wat al teen ’n beer baklei het, in seisoen 8 ’n huilende bol emosie wees wat agter haar minnaar aanhardloop en hom smeek om te bly? ’n Minnaar wat eerder sy tweelingsussie wil looi? En hoe kan sy Jaime, laasgenoemde minnaar, se storie in die familiestamboek neerskryf en die boek toemaak voor die ink droog is!? 😊
Hoekom is Varys sonder veel waarskuwing of seremonie verbrand (behalwe om Daenerys se komende malheid uit te wys)? Sy gesprekke met Tyrion rondom leierskap en die gevaar van mag was ’n hoogtepunt die seisoen.
Tyrion se besluit om Daenerys te ondersteun en sodoende sy enigste vriend, Varys, te verraai het my dwars in die krop gesteek.
Waar was Yara die heeltyd? Arya en Gendry se sekstoneel het geen doel gedien nie. En die arme klein Lyanna? Hoekom moes die ondooie reus haar ribbekassie platdruk? Tsk.
Aan die ander kant is Cersei en Jaime wat in mekaar se arms sterf in die kasteel se buik, (bloedskandelike) perfeksie. Alhoewel ek dit sou verkies het as hy ’n dolk deur haar hart gedruk het. Theon wat homself verlos van sy skandelike verlede deur sy lewe vir Bran te gee, is poëties. Jorah sou tot die einde vir sy koninging baklei.
Sansa, wat vir die ses koninkryke sê hulle kan die sewende een op hul maag skryf en met hulle jurkies afvee, as aktrise pas by haar karakter. Arya wat sonder om te sweet die Night King van die gras af maak, en dan haar tasse pak om te gaan reis, pas as aktrise ook by haar karakter. Bran sal die beste koning wees, want hy onthou al die stories, al die foute wat gemaak is, en behoort nie dieselde foute te begaan nie.
Jon was nog altyd ’n papbroek; om sy straf (om sy lewe lank vir die Night’s Watch te werk, nie te trou nie, nie grond te besit nie) net so te aanvaar, is dus geen verrassing nie.
Laagtepunte
Die reeks het gejaagd gevoel, asof die skrywers dit net wou klaar kry. Alhoewel die meeste ontknopings sin gemaak het vir die storielyn of die karakter se ontwikkeling, het dit my nie soveel geraak soos byvoorbeeld in seisoen 3 of 4 nie. (Kom ons wees eerlik, 6 en 7 was maar ook heel deurmekaar.) Ek skryf dit daaraan toe dat daar te veel karakters en storielyne was om genoegsame tyd aan elkeen te gee en jou kyker in te trek in die intriges van die sewe koninkryke. Dit verklaar die gejaagdheid. GoT seisoen agt sou by twee ekstra episodes kon gebaat het.
Dit was ook meer soetsappig as gewoonlik. In The long night is bloot die sidekicks oorlede, terwyl die sentrale karakters kon rondstaan en treur. Al die Starks wat tot die finale oorleef het, kry gelukkige eindes. Bran se reaksie op sy nominasie om koning te wees: “I didn’t come all this way for nothing.” Stroperig…
Hoogtepunte
Die kostuums!
Episode 3, The long night, was loshande die beste TV-episode wat ek nog op my rusbank meegemaak het. GoT het al titaniese strydtonele uitgebeeld, maar niks vergelyk met hierdie episode se meedoënlose aanslag op Winterfell en die kyker nie. Die Dothraki-soldate wat met brandende swaarde die donkerte injaag om die vyand aan te vat, terwyl die kyker die vlamme stuk vir stuk sien doodgaan, sal my vir altyd bybly. Berick wat besef hy het soveel male teruggekeer uit die dood bloot om Arya met sy laaste lewe te beskerm. Melisandre wat die sneeulandskap binnestap, haar halssnoer afhaal en haarself oorgee aan die dood, want sy het haar doel bereik. Dan, die hoogtepunt van die episode, die seisoen en miskien die reeks: Arya wat die Nagkoning uitoorlê met ’n mestoertjie! Die bure het my hoor snak na my asem.
Episode 6, The Bells, het vir my die gruwel van oorlog oorgedra. Die sinlose verwoesting van ’n stad, die uitroei van kinders en vrouens, is nog selde so treffend uitgebeeld. Die beeld van die verskrikte, bloedbesmeerde perd waarmee Arya uit die stad uit ry, was treffend.
Ons teleurstelling in Daenerys wat Westeros verwoes, was groot, alhoewel daar regdeur al die agt seisoene waarskuwings was dat sy gaan oorhel na die donker kant toe. Ons het saam gejuig toe sy ander volke en groepe mense verbrand of laat teregstel, want hulle was kroeks, moordenaars en verraaiers. Toe sy dieselfde doen met die inwoners van Westeros, onskuldige mense in ons oë, maar verraaiers in haar oë, toe is ons verbaas? Toe pleit ons dat haar ineenstorting te vinnig gebeur het? Nee. Sy was nog altyd ’n despoot wat geglo het sy is die nuwe messias wat die wêreld gaan verlos.
Drogon wat die Ystertroon smelt!
Opsomming
’n Klomp moerige bewonderaars het ’n petisie opgestel waarin hulle daarop aandring dat seisoen 8 oorgeskryf en -verfilm moet word. Natuurlik kan enige bewonderaar op sosiale media en om die braaivuur kla as hulle nie van iets hou nie. Maar om aan te voer dat jou idees en storielyne beter is, en dat ander mense se harde werk in die proses geskrap moet word? Dit is niks minder as arrogant nie.
Game of Thrones is ’n opwindende kulturele fenomeen. Dit maak nie werklik saak of die laaste seisoen nou swak was of nie, want in die geheel het die agt seisoene die gehalte van TV-produksies die hoogtes laat inskiet en ons met gruweldade, weemoed, waansin, ongebreidelde seks en Griekse tragedie vermaak.