Fotografie
Ek het ʼn fotografie galery bestuur vir drie jaar. In daardie tyd het ek ʼn hele klomp foto’s gesien, met talle fotograwe gewerk en ook te doene gekry met die politiek van ons land. Hoera vir my.
Die ervaring het my nie onaangeraak gelaat nie.
Dit het my oë oopgemaak vir dié ongelooflike medium. Dit het my leer onderskei tussen ‘mooi’ foto’s, waarvan daar baie in sirkulasie is, en werklike besonderse foto’s, waarvan daar besonder min in sirkulasie is.
Ek het self ʼn solo uitstalling gehad. (By ʼn ander galery. Dit sou net te onsmaaklik wees om in my eie galery uit te stal.) As ek nie omring was deur mense wat my werk opgelet en my aangemoedig het om dit uit te stal nie, het ek dalk nie ʼn tweede solo uitstalling vir later hierdie jaar bespreek gehad nie.
Lank na die galery gesluit het kon ek wel nie my voete in ʼn ander galery sit nie. As ek deur die platteland ry en die woord ‘galery’ sien gaan drink ek oorkant die straat koffie.
Tot vandag toe vermy ek sekere fotograwe. Die Fransman wat sy 6-jarige seuntjie geklap het, staan byvoorbeeld uit. Asook die Duitser wat my probeer fire het ek oor ek blykbaar nie genoeg van sy werk verkoop het nie. Maar elke industrie het tog sy probleme.
Die medium self het ek opsy geskuif vir ʼn paar jaar. As die fotograaf ʼn poepol is kyk jy anders na sy werk. As jy soveel tweederangse fotografie sien raak jy ook verveeld.
Tot ek Daniel Naudé se werk gesien het hierdie week. (Vir die gelukkiges wat in die Kaap bly gaan loer in by die Michael Stevenson Galery.)
Sy werk is vars en deurtrek met deernis vir die subjek. Glo my, dit is raar.