Ekstra medium – ekstra lekker
‘n Man wat ‘n wielietjietas deur ‘n verlate veld in die industriële gebied sleep, is nie ‘n tipiese opening vir ‘n televisiereeks nie. Dat hy boonop ‘n discobal onder die arm dra, is egter die eerste wenk dat jy nou in Beer Adriaanse en Retief Scholtz se wêreld is. En die klimaat daar lyk matig, of soos hulle dit noem, Ekstra medium.
* Hierdie skrywe is gebaseer op die loodsepisode. Daar was ’n geleentheid om nog twee episodes te prescreen. Ek het dit van die hand gewys omdat ek die res van die reeks wil kyk vir die plesier, nie vir werk nie.
Daar is ’n lieflike gemaklikheid aan hierdie reeks, ’n rustigheid wat jou intrek en jou op jou gemak stel. Dit kan eerstens toegeskryf word aan die draaiboek. Dit vloei; daar was nie ’n moment wat ek my oë wou rol vir ’n gat in die storielyn, of vir ’n belaglike foefie om van punt A tot by punt B te kom nie. Die interessante karakters het onmiddellike diepte, wat ’n prestasie is na net een episode – daar is geïmpliseerde geskiedenisse, verhoudings. Die dialoog handhaaf ’n goeie balans tussen beeldskone geskrewe, korrekte Afrikaans en die lekker Afrikaans wat alledaagse mense praat.
’n Verdere element wat bydra tot die deurleefde gevoel, is die afwesigheid van pretensie. Talle Afrikaanse dramas/komedies/toneelstukke probeer so hard om opgeneem te word as volksbesit, as Africana, as hogere vermaak, dat hulle die kyker vervreemd.
Die gemaklikheid word verder uitgebou deur opregte, pretensielose vertolkings deur topakteurs wat (meestal) nie overperform en as karikature eindig nie. Die humor is fyn, slim en ook nie oordrewe of laf nie.
Wat heel opvallend is, is die baie eenvoudige stilering. Al is jou begroting beperk (en ek sê nie Ekstra medium se begroting was beperk nie), kan mens slim te werk gaan. Jy kan steeds ’n spesifieke styl hê. Ekstra medium se klere, stelinkleding en omgewing is glád nie glamorous nie, en dit lyk op die oog af of dit ’n definitiewe besluit is wat regisseur Beer Adriaanse geneem het. Dit is uiters verfrissend om ’n reeks te kyk waar die milieu ‘n bietjie van ’n laermiddelklas, worn-out ‘70’s vibe het.
Dié loodsepisode is reeds ’n gebalanseerde geheel wat baie informasie bevat. Ek hoop die res van die reeks bou daarop.