ek wens, ek wens
Ek het my pa se dood met vyf minute gemis. So het die nurse op die tehuis se voorste trappies vir my gesê. Dalk was dit ses, of vier of drie minute. Maar ek was daar, langs sy sterfbed en hy was nog warm. So ek dink vyf minute is ʼn goeie raaiskoot.
Ek het my hand op sy klipharde bors gesit. Ek het benoud geraak oor hy dan nie asemhaal nie. Ek het die swart gat wat in die kamer hang gevoel trek-trek, maar weggeloop daarvan af. Ek het gesê, Bye pa.
En my pa was nie eers vreeslik nice met my toe hy geleef het nie. Ons was te eenders, het my ma verduidelik. Twee harde koppe wat staan by wat ons in glo. Hy kon nie vatplek kry aan die hele gay ding nie. Hy kon nie in my glo nie.
Tog, vandag toe die man in die Volvo wat my ʼn gap by die sirkel gee, soos my pa lyk, het ek in my truspieëltjie gestaar tot ek seker was dit is nie my pa nie, dat ek nie nog ʼn kans het nie.