Dwaalster: vermaaklik, maar te veilig
Dwaalster voel bekend; soos jou gunstelingkoffiewinkel of -trui. Dit is Afrikaans, dit speel af in die Karoo en bevat van ons gunstelingakteurs. Dit is hoekom ek dit begin kyk het, maar ook hoekom ek na episode sewe belangstelling verloor het.
Die akteurs doen hul beste. Daar is lieflike tonele. (Enige iets met Albert Maritz, veral die Nessun Dorma-toneel.) Die kamerawerk en kleurgradering is regtig uit die boonste rakke, en die reeks het ʼn gemaklik, stadige pas wat jou intrek. Die stilering is meestal goed. Neem byvoorbeeld, Frans se woonkamer; die vrek ou TV, bruin gemakstoel en beige/geel mure. Sy versameling koffiekoppies is ook merkwaardig. Daarteenoor lyk die kafee/bakkery soos ʼn voorkamer wat vinnig vol rakke Eureka-meel gepak is. Die Vlieënde Piering het ook baie min persoonlikheid. Die kunsmatige reën is steurend want dit lyk soos ʼn tuinslang wat iemand vashou. Die pruike…
Net oor die storie in die Karoo afspeel, hoef die karakters nie teeblare te lees, met die maan gepla te wees of sidder vir weerwolwe nie. Die karakters het ons ook almal al gesien, veral in die klein-dorpie (Karoo) ligging: die verlore dogter/joernalis wat huis toe kom, die stil skilder wat sommer ook ʼn vooraanstaande dokter is (twee vlieë met een klap), die verskiklike oulike moffies, die stoere verkeerspolisieoffisier, die mal boemelaar (wat iets indringend gaan kwytraak) en die prettige burgemeesteres. Gina, die dowe kelnerin op rolskaatse, kon interessant gewees het, maar na sewe episodes weet mens nog niks van haar nie.
Die vraagstukke wat aangepak word – xenofobie, hidrobreking, korrupsie – voel aangeplak. Dit sit nie in die weefsel van die draaiboek of karakters nie.
Dwaalster staan uit bo ander plaaslike reekse soos The girl from St Agnes, maar verdrink tussen internasionale reekse soos Russian Doll of selfs The Umbrella Academy. Ek besef ons begrotings is kleiner, maar ek weier om te skryf, ‘vir ʼn plaaslike reeks is dit goed’. Ons kon nog altyd boot-strap en ʼn plan maak.
Dwaalster is goed genoeg, maar ons is bederf met die kwaliteit en waagmoed van internasionale reekse.