die volgende insetsel in die kortverhaal…
Die beginpunt van die hartseer, en gevolglike agterdog teenoor die mensdom, lê ek voor my suster se deur, voor haar gevolgtrekking dat ek haar kinders, wat vir my die wêreld beteken, gaan aansteek met my abnormale, perverse voorliefde vir vrouens. Ja, ek is, soos die vrou by Binnelandse Sake gesê het toe sy ons huweliksertifikaat oorhandig, ‘one of those’.
Sewe jaar later en ek dra die littekens van verwerping en berou. Die gevoel van verwerping is voor die handliggend, maar die spyt het ek nie sien kom nie. Sien, nou dat ek alle tyd saam met my susterskinders verloor het, nou is ek spyt oor die halfuur hier en vyftien minute daar, wat ek eerder laat geslaap het, eerder met iemand oor die foon gepraat het as om bal te skop of legkaart te bou.
Nadat ek hulle verloor het, nou sien ek die foute in my benadering. Ek het hulle kos gegee, vermaak en ʼn pakslae of twee gegee. Ek wou hulle leer. Ek moes eerder plat op die grond by hulle gaan sit het en geluister het.