die storie van phomudzo
Die storie van Phomudzo (Gepubliseer op www.litnet.co.za op 21/1/2009)
My kuite is vandag seer. Dis oor ek ʼn half uur lank op my hurke gesit het om vir die paramedics lig te gooi met ʼn gaslamp. My storie begin egter drie jaar gelede.
Ek kan nie vir julle ʼn boeiende portret skets van Phomudzo nie, want ek het haar nie goed geken nie. Al het sy elke Dinsdag en Donderdag vir die afgelope drie jaar ons wasgoed en skottelgoed gewas. Al het haar 3-jarige seuntjie kort na geboorte op ons bank geslaap terwyl sy werk. Al was sy getroud met die tuinier van die kompleks waar ek woon, het ek nie veel van haar geweet nie.
Sure, sy was stiptelik, somtyds so 5 of 10 minute vroeg. Sy het altyd geglimlag, vriendelik gegroet en nooit gekla as ons vir iets ekstra vra nie. In ons afwesigheid het sy die telefoon geantwoord as my ma bel en geteken vir pakkies wat afgelewer word. Sy het na vakansies in Venda vir ons vet, gesonde avokado’s gebring en dan vertel hoe dit met Kabelo gaan. Hy het by sy Gogo gebly tot sy ʼn kleuterskool kon bekostig.
Phomudzo was 28.
As ek vandag aan haar dink, staan twee herinneringe vir my uit. Die eerste een is die Tina Turner video wat ek van hoërskool af saam trek. Ons het huis skoon gemaak en Tina moes uit. Op my vraag of sy van iemand weet wat dalk van Tina hou, het Phomudzo in haar nuut geleerde Engels geantwoord, “Yes. It is me.”
Die tweede herinnering is my vrou wat in die vlak kant van die kompleks swembad staan met Phomudzo se lyk in haar arms.
Phomudzo het verdrink.
Dit was ʼn warm Donderdagaand wat ons uit die woonstel gedryf het. By die swembad het ons ʼn jong ma met ʼn kleintjie sien speel en langs die kant gaan sit. In die middel van die swembad het Phomudzo gedryf. Haar postuur was vreemd, maar die laaste ding wat jy in die kompleks se swembad verwag, met ʼn ma en dogter wat rustig langs die swembad speel, is die lyk van jou huishulp.
My vrou het aangehou dat dit iets nie reg is nie. Uiteindelik het sy opgestaan en gesê, Sy is onderstebo! Ek het gehardloop om my foon te kry. My vrou het ingespring en die lyk omgedraai en vlak kant toe gevat. Dis toe ek terugkeer met Netcare 911 op die lyn en woonstelbure agter my, dat ek my vrou in die vlak kant kry. Sy kon nie die liggaam uittel nie en het haar op die boonste trappie gerus.
“Wie is dit?” het ek gevra.
“Dit is Phomudzo” het sy hartseer geantwoord.
Phomudzo se man help om sy vrou uit die water te haal. James roep ʼn verpleegster wat in die gebou bly en bring ʼn klein liggie. Sy vrou Jenny gaan haal die dokter wat in die gebou langsaan bly en vryf Phomudzo se voete. Die dokter en verpleegster voer noodhulp uit. Andrew, een van die vier sekuriteitswagte, wag by die een hek vir die ambulans. Ek staan in die straat by die ander hek. Jaco, die paramedic, kom aangejaag met flitsende ligte en probeer sy beste vir Phomudzo. Ek skyn my gaslamp vir hom.
Alles tevergeefs.
Die koerante het gesê, “Dit is steeds nie bekend wat tot die voorval gelei het nie. Sy het swemklere aangehad.”
Hierdie storie is vir jou, Phomudzo. Dit is ongelukkig al wat ek het.
4 Comments
Jou vertelling voel net so onwerklik as wat die belewenis moes wees? Koue rillings. wie het die sign geskryf?
Jou vertelling voel net so onwerklik soos wat die belewenis moes wees? Koue rillings. Wie het die sign geskryf?
hi. ek weet nie. ek vermoed een van die ander personeel lede. hulle het haar almal geken en was net so omgekrap soos ons.
Pingback:phomudzo |