Die woonstel waarin die meeste van die film afspeel, is met groot sorg gestileer, belig en verfilm. Die toneel waar Lafras eindelik vir Petra van die organisasie vertel, en heen en weer loop tussen haar en die venster, maar ook in en uit donkerte uit, het my hoendervleis gegee. Visueel is die film suksesvol. Karakterdiepte en ’n geloofwaardige storielyn het egter in die slag gebly.
Lafras is ’n staatsklerk met sielkundige probleme en ’n ek-teen-die-wêreld-kompleks. Sy kollegas terg hom, sy baas dreig hom. Petra is ’n hulpelose swanger vrou wat niks vir haarself kan doen nie. Die pa van die kind het haar weggegooi. Hulle is niks meer as hierdie stereotiepe uitbeeldings nie. Hul agtergrond bly duister. Hulle bly dieselfde.
Lafras is deurgaans versteurd, selfs in die oomblikke tussen hom en Petra wat veronderstel is om teer te wees. Petra is ’n blote toeskouer. Jy hou nie van hom of van haar nie. Jy het zero empatie vir beide van hulle. Dit maak die film vervelig, want jy is nie geïnteresseerd in hulle lot nie. Of hulle nou iets oorkom of nie, dit traak jou nie. Die laaste toneel waar Lafras in die kombuis lê, het my koud gelaat.
Daar is ook geen verbintenis tussen Lafras en Petra nie. Hulle dryf bloot in en uit mekaar se lewens en vorm nooit regtig ’n band nie. Inderwaarheid het hul ontmoeting geen impak op hul lewens nie.
Die film se storielyn is ongeloofwaardig. Petra gaan by ’n wildvreemde man se woonstel in, want sy is dors. Lafras los haar minute later alleen in die woonstel. Sy oornag en bly vir ’n paar dae daar. Wanneer hy die R1 onder die bed uithaal, sou enige regdenkende mense laat spaander het. Die vuurwerke en karnaval is als binne loopafstand van Lafras se woonstel af. Henry, Petra se eks, daag by dieselfde karnaval op. Die musiekkompetisie was belaglik. Die manne wat Lafras sommer optel en op die verhoog gaan sit is nog vreemder.
Die lys is lank.
Die herhaling van sekere aksies/gewoontes/dialoog was ook steurend en ooglopend. Lafras se heen-en-weer-fietsryery het eentonig geword. Die oorgebruik van die name Petra en Lafras wanneer die twee mekaar aanspreek. Lafras wat vrae ontwyk deur oor iets anders te praat.
Jy weet van die begin af waar Lafras gaan eindig – dit is nie in sigself ’n probleem nie. As die regisseur steeds jou aandag kon behou deur jou te laat omgee, jou te verras, jou iets te leer of jou selfs net te vermaak, dan sou dit nie saak maak dat jy weet wat wag vir Lafras nie. Die rebellie van Lafras Verwey het my egter nie laat omgee, my verras, my iets geleer of my enigsins vermaak nie.