die pick n pay antie

February 24, 2010

Dit is in die Pick n Pay waar ek haar raakloop. Daar is niemand agter haar in die tou nie en ons wil almal die 5uur verkeer mis.

Ek sit my organiese worteltjies neer. My R10 is reg. Eers toe kom ek agter al haar kruideniersware is reeds opgelui. Sy en die kassier wag vir iets anders. Die kassier kyk af, sy kyk op. Dit verklaar oombliklik waarom daar niemand agter haar was nie. Dammit.

Iets het sekerlik nie ʼn prys op gehad nie. Of die regte kleingeld skort. Dit lyk nie of sy rekeninge betaal nie. Haar hande is leeg.

Haar arms is maer en haarloos. Haar nek effens vorentoe gedruk soos die van ʼn aasvoël. Sy is langer as ek, maar weeg sekerlik dieselfde.

Ek kyk op in die moeë gesig en ek is meteens in ‘The Triplets of Belleville’. Of ʼn soortgelyke Franse strokiesprent.

Alles aan haar lang, maer gesig hang ondertoe. Die hol wange, die rooi sekelmaan tussen haar oë en onderste ooglede. Net haar mond stry nog effens teen swaartekrag deur effens vorentoe te druk. Haar onderste lip verraai haar egter en die punt daarvan drup, drup ondertoe.

Die ooghare is lankal weg. Die kopdoek dek haar kaalheid.

Sy is moeg.

Dit is hoekom die kassier na haar vingers staar.

My wortels is vergete.

Daar is ʼn skielike gewarrel en hulle oorhandig aan haar dit waarvoor sy so geduldig gewag het. ʼn Pakkie sigarette.

 

    2 Comments

  • nninh
    August 24, 2012
    Reply

    Ek soek al lankal vir meer voorbeelde wat wys hoe ‘n baie kort storie nogsteeds ‘n sterk emotionele en visuele impak kan hê. Hier is dit. Puik geskryf. Baie dankie vir goeie ‘food for thought’ net voor middernag.

  • admin
    August 25, 2012
    Reply

    Dankie!!

  • Leave a comment

    Time limit is exhausted. Please reload the CAPTCHA.

Previous post Veggie update
Total: