Tess
Christia Visser gaan dit ver bring en sy verdien al die pryse wat sy vir dié film wen. Sy het die ongenaakbare rol van Tess in haar vroeë twintigs aangepak en meesterlik vertolk. Sonder haar sou die film sukkel. (Kan almal net ophou om haar die nuwe Charlize te noem? Ek het absoluut niks teen Charlize nie, en verstaan dat dit as ’n kompliment bedoel word, maar Christia is haar eie mens, haar eie aktrise, wat haar eie pad gaan volg.)
Die kinematografie is goed – die perfekgeraamde skote, gebleikte kleure en asemrowende landskap staan in skerp kontras teen die nagmerrie wat Tess se lewe is.
Daar is omtrent geen dialoog in die film nie. Die afwesigheid daarvan, die stilte wat dit skep, het vir Christia baie speelruimte gegee.
Die verhouding tussen Tess en har buurvrou, Madeleine, wat haar heeltyd wil help, is besonders. Die toneel waar Tess ten volle geklee in die bad sit, is aangrypend.
Die film is egter vir my effens deurmekaar. Sekere goed is onduidelik of uit hulle plek. Tess en ’n kliënt wat na slegs een (gefaalde) ontmoeting ’n intense “heart-to-heart” het? Die einste kliënt se vrou sit uit die bloute uit met ’n groep kinders onder Tess se balkon? (Hulle woon of werk nie in dieselfde omgewing nie.) Na die skietvoorval sal Tess seker polisiestasie toe geneem word? Maar tog wag sy en die dogtertjie wat sy gered het op die strand vir die einste kliënt, sy vrou en die dogtertjie se ma? Hoekom is die dogtertjie alleen gelaat as hulle weet sy is in gevaar? Wat laat Tess op daardie spesifieke oomblik aan die kind dink?
Tess se delging gebeur ook te vinnig en te maklik. Sy is as kind gemolesteer, en werk al vir ’n ruk op die strate. Sal ’n swangerskap haar so ongelooflik pla dat sy oornag met haar pilverslawing ophou? Sal sy werklik die hand van ’n vreemdeling vashou terwyl die arme kind ’n aborsie ondergaan? Die straatvrou met die goeie hart is ook al holrug gery as tema.
Dit is die gate in die draaiboek wat die film ongelukkig in die steek laat.